Back to George Specialist Association Home Page

Back to George Specialist Association Home Page














.
NEWS  
.

THE SOUTH AFRICAN MEDICAL ASSOCIATION

• Telephone +27(0)12 481 2000, Fax +27(0)12 481 2100, 
• E-mail medigram@samedical.org
• PO Box 74789, Lynnwood Ridge, 0040
• Block F, Castle Walk Corporate Park, Nossob Street, Erasmuskloof Ext 3, Pretoria 
• © The South African Medical Association 


VOL 10 Nr 1: 28 JANUARIE 2002
MEDIGRAM 

SAMV se hoof bedank 

Dr Percy Mahlathi, wat die afgelope 2 jaar die pos van hoofuitvoerende beampte van die SAMV beklee het, het uit die Vereniging bedank. Hy het die SAMV se diens op 31 Desember 2001 verlaat. Die Direksie sal na sy vergadering in Februarie die proses vir die aanstelling van ‘n nuwe hoofuitvoerende beampte aankondig. Intussen sal die huidige bestuurspan onder leiding van die voorsitter, dr Kgosi Letlape, die dag tot dag funksies uitvoer. Die Vereniging gee lede die versekering dat alle afdelings en eenhede verbind is om die normale dienste en produkte te verskaf en dat alle aktiwiteite sonder onderbreking sal voortduur. Die Direksie vertrou dat met die steun van lede en die Vereniging se infrastruktuur, die bestuurspan die belange van die Vereniging en sy lede volgens hul mandaat kan behartig totdat ‘n nuwe hoofuitvoerende beampte aangestel word. 


Vereniging bevestig beroep se kliniese onafhanklikheid 


Die SAMV het weer dokters se verbintenis bevestig om die MIV-pandemie op alle moontlike terreine te beveg, en sy onomwonde steun gegee aan die regte van dokters tot kliniese onafhanklikheid en outonomie. Dit sluit hul regte in om pasiente te behandel sonder onredelike beinvloeding, druk of viktimisasie deur werkgewers of regeringsinstansies. Die Vereniging het gereageer na berigte in die media oor die stappe wat teen ‘n dokter geneem is nadat sy anti-retrovirale behandeling aan die 9-maande oue verkragtingslagoffertjie van Upington verskaf het. Die SAMV het die feit beklemtoon dat dokters elke dag met MIV-pasiente werk. `Mediese praktisyns is eties verplig om op te tree in die beste belang van hulle pasiente wat ‘n baie kwesbare groep in die Suid-Afrikaanse samelewing is,’ het dr Anant
Chetty, Voorsitter van die Komitee vir Menseregte, Reg en Etiek, gese. Die SAMV steun ook pasiente se reg tot noodsaaklike behandeling met ingeligte toestemming. Dit sluit die regte van alle swanger vroue wat MIV-positief is om die beste beskikbare en beproefde behandeling te ontvang wat moeder-tot-kind oordrag verminder. Dieselfde beginsel behoort ook by verkragtingslagoffers toegepas te word. Die Vereniging het dit baie duidelik gestel dat hy sal voortgaan om dokters te ondersteun wat in die belang van hulle pasiente optree en hulle reg tot toegang tot gesondheidsorg beskerm. Die SAMV het einde 2001 ‘n nuwe stel etiese riglyne ten opsigte van MIV en menseregte aanvaar. ‘n Opsomming van die riglyne is beskikbaar op die SAMV se webwerf by www.samedical.org


Mediese etiek: pasient moet toestemming gee vir diagnose op brief 

Pasiente moet altyd ingeligte toestemming verleen voordat praktisyns die diagnose op mediese sertifikate vir siekverlofdoeleindes mag aanbring. Die SAMV se Regsafdeling het verduidelik dat indien die pasient nie toestemming daarvoor gee nie, dokters slegs op die sieksertifikaat mag aandui dat die pasient volgens sy/haar mening nie medies geskik is om te werk nie. Die kwessie van sieksertifikate is by ‘n vorige Direksievergadering bespreek en die Raad vir Gesondheidsdberoepe is versoek om duidelikheid oor hierdie aangeleentheid te gee. Die Raad het die SAMV in Desember 2001 ingelig dat sy etiese reel (reel 15) reeds in Desember 2000 gewysig is en sedert Mei 2001 geld. Die SAMV se Komitee vir Menseregte, Reg en Etiek ondersoek ‘n konsep pro forma sertifikaat vir siekverlofdoeleindes wat die verwarring oor wat toelaatbaar is en wat nie, vir eens en altyd sal opklaar. Hierdie sertifikate sal aan dokters beskikbaar gestel word sodra die Komitee daarmee tevrede is.

Hierdie artikel is die eerste in ‘n nuwe gereelde Medigram-rubriek oor Mediese Etiek. Dokters kan hulle vrae oor etiese kwessies stuur aan elsabek@samedical.org of faks (012) 481-2100 vir bespreking en antwoorde. 


Ooreenkomste met locums moet voorwaardes uiteensit 

Die belangrikheid van duidelik omskryfde voor-waardes in ooreenkomste tussen praktisyns en locums kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die Vereniging het talle klagtes ontvang oor ooreenkomste met locums van dokters wat gedurende die vakansietyd plaasvervangers in diens moes neem. Die regsafdeling het gese al gebruik dokters agentskappe om locums te kry, is daar verskeie aspekte wat baie duidelik in die kontrak uiteengesit moet word. 

· Besluit of die locum in diens geneem word, of as ‘n onafhanklike kontrakteur sal werk. Dit beinvloed aanspreeklikheid, betaling, ens.

· Beskik die locum oor vrywaringsdekking (MPS). 

· Stel vas of die locum enige artikel 51-beperkings het, bv. dat hy/sy nie sonder toesig mag praktiseer nie of in sekere opsigte onbevoeg is. 

· Spesialiste mag nie as algemene praktisyns locum nie. 

· Maak seker dat die locum wel ‘n algemene praktisyns of spesialis in die betrokke dissipline is en spesifiseer dat hy/sy slegs binne daardie veld of opleiding mag werk. 

· Indien dit ‘n resepterende praktyk is moet die locum as sulks geregistreer wees. Maak ook voorsiening vir voldoende beheermaatreels oor medisynevoorraad.

As ‘n diens aan lede, verskaf die Vereniging pro forma locum kontrakte. Bel Karlien by (012) 4812097 of karlienv@samedical.org om afskrifte daarvan te bekom. 


Arbeidspraatjies: Swangerskap, kraam- en gesinsverpligtinge 

Die Vereniging moes onlangs ingryp toe interns wat swangerskapverlof geneem het probleme ondervind het om hulle poste te behou of om uitstel vir hulle kontrakverpligtinge te kry sodat hulle hul internskap kon voltooi. Die Arbeidswet stel dit baie duidelik dat swangerskap, kraamverlof en gesinsverpligtinge nie ‘n werkgewer se posisie mag benadeel nie. Daar rus ook ‘n verpligting op werkgewers om voorsiening vir werknemers se swangerskap en gesinsverpligtinge te maak. Enige werknemer (hetsy interns, gemeenskaps-iensdokters of ander dokters in die staatsdiens) wat probleme in hierdie verband ondervind, of weet van enige diskriminasie of versuim om redelike omstandighede in ag te neem, kan Pauline Legodi by (012 ) 481-2024, of paulinel@samedical.org of Elsabe Klinck by tel (012) 481-2044 of elsabek@samedical.org vir hulp of meer inligting nader.