Welcome to George Specialist Association















MEDICAL NEWS
 
.

Blank assumes all

SPATARE Date Posted: 20-Nov-2002
SPATARE - HOE ONTSTAAN DIT, HOE KAN DIT BEHANDEL WORD EN WAT BEHELS 'N SPATAAR OPERASIE

Wat is Spatare?
Are is die bloedvate wat bloed terugdra na die hart. Spatare is abnormaal geswelde are wat sigbaar is onder die oppervlakte van die vel. Kleiner sigbare aartjies in die vel self word partykeer “spinnekopaartjies” genoem. Alhoewel dit onooglik lyk, is dit nie skadelik nie en veroorsaak dit nie dieselfde probleme as spatare nie.

Wat veroorsaak spatare?
Spatare onstaan as gevolg van ‘n fout met die eenrigtingkleppies binne-in die are. Hierdie kleppies verseker dat bloed net in een rigting na die hart kan vloei. As die kleppies lek, kan bloed ook terugwaarts vloei as ‘n mens staan. Hierdie terugwaartse vloei veroorsaak verhoogde druk in die are wat dan swel en spatare word.
Spatare is dikwels oorerflik, en soos ‘n mens ouer word is hulle meer geneig om te ontwikkel. Hulle kan ook veroorsaak word deur swangerskap of ‘n toename in gewig. Dit is meer algemeen in mense wat baie staanwerk doen. Soms ontwikkel spatare omdat die diep are van die been deur ‘n bloedklont verstop is of vernietig is deur ‘n besering soos ‘n beenbreuk.

Veroorsaak spatare probleme?
Spatare is baie algemeen en veroorsaak dikwels geen simptome nie, alhoewel hulle baie onooglik kan wees. Dowwe pyn in die bene is egter algemeen, veral na ‘n dag se staan, sowel as swelling van die enkel.
Soms veroorsaak erge spatare skade aan die vel van die been bokant die enkel, wat kan lei tot jeuk en velverkleuring (ekseem). Sonder behandeling ontwikkel daar dan dikwels ‘n ulkus.
Soms kan van die spatare rooi en seer word. Hierdie inflammasie staan bekend as “flebitis”.

Watter toetse is nodig?
In die meeste gevalle is n eenvoudige kliniese ondersoek en ‘n pynlose toets met ‘n ultraklank masjien in die spreekkamer die enigste toetse wat jou spesialis sal doen. Soms is ‘n meer gedetailleerde sonar of X-straal nodig voordat ‘n besluit oor behandeling gemaak kan word. Dit is veral waarskynlik as u spatare herhaal het na vorige behandeling.

Is behandeling nodig?
Ernstige komplikasies as gevolg van spatare is ongewoon, en daarom is behandeling gewoonlik nie noodsaaklik nie. Dit is die pasient se keuse. As u spesialis dink dat behandeling wenslik is, kan u dit bespreek gedurende die konsultasie. Baie pasiente met spatare het nooit behandeling nodig nie, maar ‘n paar met erge simptome of potensiële komplikasies benodig spoedige operasie. Spataarulkusse sal gewoonlik nie goed genees voordat die onderliggende spataarprobleem reggestel is nie.

Watter behandeling is beskikbaar?

Spataarkouse
Dit is dalk al wat nodig is om ongemak te verminder. Hierdie kouse sal nie die spatare laat verdwyn nie, en is soms ongemaklik, veral in warm weer. Dit werk ook nie goed vir groot spatare of komplikasies van spatare nie. Dit moet goed passende onderknieg kouse wees. Hulle moet gemaklik sit, en op hulle eie bo bly.

Inspuitings (skleroterapie)
‘n Klein hoeveelheid van ‘n spesiale vloeistof word in elke aar ingespuit, waarna die been verbind word vir twee weke. Die aar krimp op en raak minder sigbaar. Hierdie behandeling werk veral goed vir kleiner spatare en spinnekopaartjies. Die inspuitings kan egter velreaksies en –verkleuring veroorsaak.
Operasie
Groter spatare benodig dikwels chirurgie onder algemene narkose. Die spatare word verwyder deur ‘n paar klein snytjies in die oorliggende vel. Die lekkende kleppe in die lies word afgebind deur ‘n snytjie daar, en die groot spataar in die dy word ook uitgetrek deur dieselfde sny. Hierdie chirurgie veroorsaak bloeding onder die vel, en om dit tot die minimum te beperk word ‘n stywe verband vir ‘n paar weke na die operasie om die been gedraai.
Die liggaam kan normaal funksioneer sonder hierdie are, want daar is n dubbele aarsisteem in die bene (sien skets).

Wat behels die operasie?

Voor u Chirurgie
Indien u `n lid van `n mediese fonds is, is dit belangrik om vooraf toestemming vir die operasie te verkry. Vir die gemak van pasiente wat daar opereer word, het die Lamprecht Kliniek ‘n pre-admissie sentrum wat alle detail hanteer. Besoek hulle asseblief sodra u afspraak vir chirurgie gemaak is.

Op die dag van u operasie:
Dit is belangrik om niks te eet of te drink op die dag van u operasie nie. U sal tot die hospitaal toegelaat word voor chirurgie. Laat asseblief waardevolle besittings by die huis. U sal `n suster sien wat u in `n saal sal toelaat, asook `n narkotiseur, wat u sal ondersoek voordat u aan die slaap gemaak word. Dit mag nodig wees om `n EKG, X-strale en bloedtoetse voor die operasie te ondergaan.
Voordat u na die teater gaan, sal u `n hospitaaljurk aantrek en alle juwele, kunstande, kontaklense en naelpolitoer verwyder.

Na u chirurgie
Na die operasie sal u na die herstelkamer gaan, waar u vir `n geruime tyd gemonitor sal word voordat u teruggaan na die saal. U mag ongemak hê in u been, maar uitstekende pynmedikasie sal voorgeskryf wees. U sal een of twee nagte in die hospitaal bly. Wanneer u ontslaan word, sal u `n voorskrif of pille ontvang vir gebruik by die huis.

Algemene narkose:
Die narkose kan u moeg en naar laat voel, en u mag sukkel om te konsentreer. Dit is normaal, en kan vir `n dag of twee aanhou.

Wonde :
U steke sal uitgehaal word wanneer u weer vir opvolg kom. Dit is normaal vir die wonde en bene om geswel en verkleur te wees vir tot drie maande na die operasie.

Opvolg
’n Opvolgafspraak sal reeds in die hospitaal gemaak word, gewoonlik vir sowat 10 dae na die operasie.

Aktiwiteit en werk:
Vroeë aktiwiteit na die operasie is wenslik, en u moet probeer om daagliks ‘n entjie te stap. Soms kramp die bene kort na die operasie, veral snags; dit verbeter gou met n bietjie oefening. U kan terugkeer na u werk so gou as u gereed voel. Lank staan behoort vermy te word in die eerste maand of drie.

Hoe goed is die behandeling?
Geen behandeling kan elke sigbare spataar totaal laat verdwyn nie. Daar is ook nie ‘n “invisible mend” nie, omdat inspuitings velveranderinge kan veroorsaak en chirurgie littekenweefsel. Nuwe spatare kan ook weer verskyn na suksesvolle chirurgie. Dit neem egter baie jare, indien dit wel gebeur.

Hoe kan ‘n mens jouself help?
Voorkom oorgewig en dra ondersteunende kouse as u lank moet staan. Gereelde oefening, byvoorbeeld stap, help ook om bloed uit die been te pomp. Droë, jeukende vel kan dikwels gehelp word deur ‘n bevogtigende room of badbyvoeging.

 

.
.

 

[ Hosting by Gardenroute.com · Design by HandMade SoftWare ]

.